

Die Hoërskool Pietersburg se eersterugbyspan se afrigter, Corstiaan Vermaak, sal die kragmeting teen die Hoërskool Lichtenburg op sy tuisveld in Polokwane gebruik om sy span weer saam te snoer na die onderskeie nasionale weke.
Die kragmeting wat om 13:00 afskop is ‘n wedstryd in die Skild-afdeling van die Virseker Noordvaal Cup.
Gelukkig vir Vermaak was die grootste gedeelte van sy span saam met hom op die FNB Cravenweek in Gqeberha vir die Limpopo Blou Bulle in aksie. Vermaak was die unie se hoofafrigter op die toernooi.
Die Pieties beklee die tweede posisie op die puntelys met 22 ligapunte. Die span het sover nog net een keer teen Heidelberg Volkskool (22-27) in die kompetisie die knie gebuig.
Heidelberg Volkies beklee die boonste posisie met 24 punte in die liga, maar het al een wedstryd meer as Pieties gespeel. Vermaak se span dus steeds bo-aan die puntelys eindig indien hy volpunte in sy laaste drie wedstryde van die reeks behaal. Buiten die kragmeting teen die Liggies moet die span van Polokwane nog teen Eldoraigne asook Piet Retief sake uitspook.
Die Pieties se agttal met sy kaptein en vaskopstut, Stephan Jansen van Rensburg, aan die spits kan die besoekers Saterdag probleme voorlangs besorg. Die woelige haker, Ziahn Lombaard, asook die flank Andru de Beer was skitterend tydens die Cravenweek en sal ook groot dorings in die Liggies se vlees wees.
Vir die Liggies kan hul Cravenweek-speler, Karabelo Kgamanyana (heelagter), indien hy spasie gegun word vir ‘n hele paar opwindende oomblikke sorg.
In Alberton het Marais Viljoen ook nog baie om voor te speel wanneer hy teen Ligbron Akademie van Ermelo te staan kom. Die span van Alberton beklee die derde posisie op die puntelys met 21 punte en indien hy volpunte teen die besoekers insamel sal dit sy posisie in die liga verder versterk.
Die span se agtsteman, Joshua O’Brien, word nie maklik agter die voordeellyn gestuit nie. O’Brien het vanjaar al 16 keer ‘n draai agter die doellyn in dié reeks gemaak. Dit het tot dusver driekunste teen Secunda, Eldoraigne, Piet Retief en Lichtenburg ingesluit. In die wedstryd teen Secunda het hy vier keer oor die doellyn gebars.
Die spanne is:
Hoërskool Pietersburg t. Lichtenburg om 13:00 in Polokwane:
Hoërskool Pietersburg: 15 Ryno Mienie, 14 Armand Venter, 13 Juan Dreyer, 12 Hanru Marais, 11 Basson Wolmarans, 10 Juan Randell, 9 Curtis Cloete, 8 Liam van der Bank, 7 Ignus Ferreira, 6 Andru de Beer, 5 Ludke Pienaar, 4 Brent Vorster, 3 Stephan Jansen van Rensburg (kaptein), 2 Ziahn Lombaard, 1 Krissie Swanepoel.
Lichtenburg: 15 Karabelo Kgamanyana, 14 Vusi George, 13 WJ Liebenberg, 12 Thatu Seabo, 11 Andries Pretorius, 10 Ruben Swartz, 9 Rea Motsusi, 8 Jaco Lotter, 7 Phillip Jacobs, 6 Tydiane Williams, 5 George Bingudza, 4 Miguel Goncalves, 3 David Passetti, 2 Johan Duvenage, 1 Ruben Pretorius.
Marais Viljoen t. Ligbron Akademie om 12:30 in Alberton:
Marais Viljoen: 15 Kabelo Tlhoaele, 14 Adriaan van Vuuren, 13 Blake Worthington, 12 Danté Crous, 11 Nqoba Mathe, 10 Jared Mentz, 9 Peter Chihobo, 8 Joshua O’Brien, 7 Thato Mapuru, 6 Tshepo Tsholo, 5 Ukona Mahlehlo, 4 Dean Scheepers, 3 Markus Jacobs, 2 Frikkie Horn, 1 Caden Sheasby.
Ligbron Akademie: 15 Cooper Slade, 14 Mitchelle Albert, 13 Katlego Sibiloane, 12 Ndumiso Dlamini, 11 Neo Zwane, 10 Gaston Brown, 9 Carlo van Staden, 8 Henco Scheepers, 7 Wiaan du Preez, 6 Johardt Swanepoel, 5 Subelo Ngwenya, 4 RW Beyleveld, 3 Regard Janse van Rensburg, 2 Franco Groenewald, 1 WP Human.
Skeidsregter: Ruan Benadie.
