

Daar is ‘n gesegde dat ‘n eindstryd op die dag gewen word, deur die span wat dit die graagste wil hê.
‘n Sege in Saterdag se eindstryd van die Virseker Noordvaal Cup se Beker-afdeling sal vir albei skole ongelooflik baie beteken.
Monument wat gasheer vir die eindstryd is se afrigtingspan bestaande uit Jannie du Plessis en Reinhard Gerber, het verlede jaar ‘n behoorlike vuurdoop gehad. Die Wit Bulle kon vir die eerste keer in jare nie tot die halfeindronde van die reeks deurgedring het nie.
Waterkloof se eerstespan het in 2024 tot die eindstryd deurgedring, maar het toe teen Garsfontein met 30-36 vasgeval. Klofies het laas in 2011 enige trofee in die kompetisie omhoog gehou.
Dit was toe sy eerstespan vir Florida met 41-21 in die eindstryd geklop het. Monnas het in 2022 laas die trofee omhoog gehou toe hy vir Garsfontein met 30-28 op die Ras van Rooyen-veld afgestof het.
Die feit dat geen juniorspan van Waterkloof nog tot ‘n eindstryd sedert 2018, wanneer die nuwe kompetisie-model in gebruik geneem is, kon deurdring nie, onderstreep ook hoe nodig die Klofies se rugbyprogram hierdie sukses het.
Daar kan dus geen twyfel bestaan dat albei skole se rugbyprogramme graag Saterdag as kampioen gekroon wil word nie.
Daar sal vanjaar vir die eerste keer sedert 2022 ‘n nuwe kampioen in die reeks gekroon word. Garsfontein wat die afgelope drie jaar die kampioen was, het Dinsdag in die halfeindstryd teen Waterkloof sy rieme met 26-27 styfgeloop.
Die Klofies sal sonder hul kaptein en buitesenter, Meyer Pretorius, moet klaarkom. Hy het sy knie in die halfeindstryd teen Garsies beseer.
Die besoekers se lostrio Almero Gerritsen, Stefan Pieters en Hugo Dercksen sal weer reuse vertonings moet lewer indien die Blou Tornado weer tot stormsterkte gaan kom. Dercksen sal die span in Pretorius se plek aanvoor.
Monnas het hul plek in die eindstryd met ‘n oorwinning van 60-52 oor Noordheuwel in die halfeindronde bespreek.
Die Wit Bulle se skakelpaar, Morné Noble en Jaydon Viljoen, het tot dusver groot rolle in hul span se sukses vertolk. Die duo sal weer op hul beste moet wees om seker te maak die trofee verlaat nie Krugersdorp nie.
Viljoen het vanjaar al 114 punte in die reeks opgestapel. Noble is met 15 drieë ook die voorste driedrukker in die reeks.
Hy was verlede jaar by Wynberg Boys’ High se vanjaar se SA Skole en o.18-losskakel, Achmat Behardien, se skakelmaat. Voeg daarby dat hy verlede jaar asook in 2024 saam met die Junior Springbokke se losskakel, Yaqheen Ahmed, se spanmaat was. Ahmed het verlede jaar op binnesenter vir Wynberg uitgedraf.
Die twee spanne het mekaar boonop twee weke gelede in Krugersdorp gepak met Monnas wat danksy ‘n drie na die sirene ‘n oorwinning van 40-36 beklink het.
Monnas het al tien keer vantevore die kroon gedra, terwyl Waterkloof al vyf keer die kampioen was. Die twee spanne het mekaar al drie keer vantevore in die eindstryd van die reeks die stryd aangesê.
Die Wit Bulle was al drie keer in 2005 (30-17), 2009 (32-20) en 2010 (26-25) baas.
Die spanne is:
Monument: 15 Ray-Nathin van Kolver; 14 Loghan Langeveldt, 13 Blessing Monareng, 12 Etienne Fourie, 11 Ruan Genis; 10 Jaydon Viljoen, 9 Morné Noble; 8 Ryno van der Westhuizen (kaptein), 7 Roché Botha, 6 Siya Ncube, 5 Matthew van Deventer, 4 Hanco van Geelen, 3 Ben van Wyk, 2 Jayden Nel, 1 Dexter Chiyangwa. Plaasvervangers: 16 Arrie Nieman, 17 Luan Coetzee, 18 Carlo Claase, 19 Jack Milne, 20 Ivan vd Merwe, 21 Jordan Forbes, 22 Cameron Kourie, 23 Corné Mostert.
Waterkloof: 15 Alexander Griesel; 14 Mieder Erasmus, 13 Ruben Louwrens, 12 Ben Steyn, 11 Jacques Jansen van Rensburg; 10 Liam Schutte, 9 Marcel Tsiakos; 8 Almero Gerritsen, 7 Stefan Pieters, 6 Hugo Dercksen (kaptein), 5 Marius Venter, 4 Phillip Mans, 3 Reinhard Duvenhage, 2 Stiaan Theron, 1 Wian Hetzel. Plaasvervangers: 16 Kayden Pruis, 17 CW Kruger, 18 Jayden Smit, 19 Jhannes de Beer, 20 Carlo Brits, 21 Nicolas Potgieter, 22 Aiden Bester, 23 Wynand Gouws.
Skeidsregter: Excellent Mnkomo (Limpopo Blou Bulle).
Afskop: 14:00
Ander Eindstryde:
09:00 – o.14 – Hoërskool Rustenburg t. Hoërskool Middelburg
10:40 – o.15 – Monument t. Helpmekaar Kollege
12:00 – o.16 – Monument t. Hoërskool Rustenburg

