SuperSport Schools News

Nelspruit se Rhinos sal Zwarrie Vikings se partytjie wil bederf

FOTO: Johan Orton

Die Hoërskool Nelspruit se Rhinos sal poog om Zwartkop se Vikings se partytjie Saterdag in die eindstryd van die Plaat-afdeling van die Virseker Noordvaal Cup te bederf.

Die eindstryd skop om 13:10 op Zwartkop se hoofveld af.

Die Vikings sal die veld as volslae gunsteling betree. Die span wat deur David Gouws en Marné Coetzee, afgerig word het nog nie vanjaar in die reeks verloor nie.

Zwartkop was boonop nog net een keer die afgelope twee jaar in die kompetisie aan die verloorkant. Die span het verlede jaar teen Hoërskool Middelburg met 19-22 in die halfeindronde vasgeval.

Dit was ook die span se enigste nederlaag in 2025. Vanjaar het die Zwarries nog net twee keer teen Durban High School (14-31) en Kearsney College (19-22) tydens laasgenoemde se Paastoernooi vasgeval.

Die Zwarries was dus in sy laaste 41 wedstryde slegs drie keer aan die verloorkant. ‘n Sege in Saterdag se eindstryd sal dus die kroon span om hierdie groep seuns se nalatenskap by die skool.

Die tuisspan het verlede Saterdag vir Oos-Moot met 45-10 uit die pad in die halfeindronde gevee. Nelspruit se halfeindstryd teen Kempton Park is eers Dinsdag beslis.

Die Rhinos se Suid-Afrikaanse o.18-heelagter, Rhandzu Mkhabela, sou na verwagting sy terugkeer in die kragmeting maak. Die span van Mbombela het egter besluit om hom nie tydens die oorwinning van 29-15 oor Kempies in te span nie.

Mkhabela sal wel die laaste vesting teen Zwarries geman. Sy aanvallende spel asook die skopskoen van die losskakel, Ewan van der Merwe, sal ‘n belangrike rol in die Rhinos se aanslag speel.

Indien die Zwarries se vlugvoetige losskakel, Tilon Baron, genoeg balbesit ontvang sal die besoekers moet bontstaan op verdediging.

Die tuisspan se kaptein en binnesenter, David van Jaarsveldt, sal dan soos gewoonlik sy span op gereelde grondslag oor die voordeellyn met sy lopies kry. Baron, die linkervleuel, Waylin Papier, asook die veelsydige plaasvervanger Garrith Warrie het vroeër vanjaar die Blou Bulle op die Cravenweek verteenwoordig.

Van Jaarsveldt asook die haker, Regan Blignaut, het ook onder die voorste spelers in hul posisies vir die Ligbloues getel. Die twee het ongelukkig nie die uitsoekspan gehaal nie.

Blignaut sal voorlangs saam met die flank Luan Wepener die pap behoorlik dik aanmaak.

Zwartkop het in die ligawedstryd teen Nelspruit met 49-33 as oorwinnaar van die veld gestap. Die eindstryd beloof dus om ‘n opwindende tweestryd te wees.

Die spanne is:

Zwartkop: 15 Shayden Botha; 14 Owen Dubery, 13 Stiaan Botha, 12 David van Jaarsveld (kaptein), 11 Waylin Papier; 10 Tilon Baron, 9 Kyle Koopman; 8 Wihan Roux, 7 Luan Wepener, 6 Xander Huyser, 5 Jethro le Roux, 4 Hermann Potgieter, 3 Ruben Harvey, 2 Regan Blignaut, 1 Matthew Smith. Plaasvervangers: 16 Marko Herbst, 17 Matthew Lewis, 18 Johan Armstrong, 19 Mikka Allers, 20 Reghardt Naudé, 21 Dian du Plooy, 22 Garrith Warie, 23 AJ Hendriks.

Hoërskool Nelspruit: 15 Rhandzu Mkhabela; 14 Tye Habib, 13 Jeandré Aucamp, 12 Rian Botha, 11 Hanré Smit; 10 Ewan van der Merwe, 9 Kamo Monkwe; 8 Vian Louw, 7 Christiaan Botha, 6 Aldo van Jaarsveld, 5 Dirk Arnold Joubert, 4 Robroy MacGregor, 3 Christiaan Viljoen, 2 Mphobuhle Nyumba, 1 Lindani Ndlela. Plaasvervangers: 16 Sebastian Rheeder, 17 Adriaan van Wyk, 18 Jason Erasmus, 19 Ruan Ehlers, 20 Lolo Mthetwa, 21 Dylan Duvenhage, 22 Bjorn van Rooyen, 23 Dylan Steyn.

Skeidsregter: Dwayne Burger (Luiperds)
Afskop: 13:10

Ander Eindstryde:  

09:00 – o.14 – Zwartkop t. Hoërskool Klerksdorp
10:15 – o.15 – Hoërskool Nelspruit t. Montana
11:30 – o.16 – Hoërskool Nelspruit t. Oos-Moot

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.
Scroll to Top