

Hoërskool Pietersburg sal Saterdag op sy tuisveld nie weer met ‘n silwermedalje in die eindstryd van die Skild-afdeling van die Virseker Noordvaal Cup wees nie.
Die Pieties kom Saterdag om 13:00 teen Marais Viljoen van Alberton in die eindstryd van die reeks te staan. Die tuisspan het verlede jaar naelskraaps met 28-32 teen Montana die knie in die eindstryd gebuig.
Die skool van Polokwane se rugbyprogram het met rasse skrede die afgelope paar jaar gegroei na hul in 2019 nog in Afdeling 2 van die reeks meegeding het. Die Pieties se eerstespan het in 2019 dié afdeling met ‘n sege van 23-20 oor Ligbron Akademie beklink.
Die eindstryd beloof om ‘n titaniese stryd te wees, veral voorlangs. Marais Viljoen se agtsteman, Joshua O’Brien, het nog elke span waarteen hy vanjaar teen te staan gekom het, met sy kraglopies probleme besorg.
Marais Viljoen het sy plek in die eindstryd bespreek na hy met 27-elk gelykop teen Heidelberg Volkskool in die halfeindronde gespeel het. Die span van Alberton het deurgedring oor die feit dat hy die eerste drie in die halfeindstryd gedruk het.
Die Volkies sal terugkyk na die seisoen asook die wedstryd oor wat kon gewees het. Pietersburg se enigste nederlaag in die reeks vanjaar was teen die einste Volkies (22-27).
Die span van Heidelberg het ook tydens die kwarteindronde van die NWU Prestige-reeks vir Pietersburg met 12-10 getroef.
Die Pieties en Marais Viljoen het vanjaar ook al twee keer ontmoet. Dit was slegs agt dae uitmekaar in Mei. Die span van Polokwane was met 45-15 baas in die uitspeelwedstryd om vyfde en sesde plek in die NWU Prestige-reeks, terwyl hyo ok bobaas was agt dae later met 31-22 tydens die eerste ronde wedstryde van die Skild-afdeling.
Pietersburg se kaptein en vaskopstut, Stephan Janse van Rensburg, saam met die haker, Ziahn Lombaard, en flank, Andru de Beer sal hul span se aanslag van voor lei.
Agterlangs het Juan Randell (losskakel) en Juan Dreyer (buitesenter) vanjaar al gewys dat hulle gevaarlik op die aanval is. Die ervare Ryno Mienie op heelagter is ook een van die tuisspan se staatmakers.
Die spanne is:
Hoërskool Pietersburg: 15 Ryno Mienie; 14 Duvan Human, 13 Juan Dreyer, 12 Hanru Marais, 11 Keanu Potgieter; 10 Juan Randall, 9 Curtis Cloete; 8 Reghard Els, 7 Ignus Ferreira, 6 Andru de Beer, 5 Ludke Pienaar, 4 Brent Vorster, 3 Stephan Jansen van Rensburg (kaptein), 2 Ziahn Lombaard, 1 Krissie Swanepoel. Plaasvervangers: 16 Frederich Cronje, 17 Dewan Windell, 18 Johandré Fourie, 19 Jan-Hendrik Bonneschans, 20 Jodan du Bruyn, 21 Elkan Esterhuize, 22 Darren Foss, 23 Preston Oosthuizen.
Marais Viljoen: 15 Kabelo Tlhoaele; 14 Adriaan van Vuuren, 13 Blake Worthington, 12 Dante Crous, 11 Nqoba Mathe; 10 Jared Mentz, 9 Peter Chihobo; 8 Joshua O’Brien, 7 Thato Mapuru, 6 Tshepo Tsholo, 5 Ukona Mahlehlo, 4 Dean Scheepers, 3 Markus Jacobs, 2 Frikkie Horn, 1 Caden Sheasby. Plaasvervangers: 16 Ruben Jacobs, 17 Armandt Landman, 18 Ayolisa Ledikwa, 19 Juan Booysen, 20 Kiano Theron, 21 Ghian van der Vyver, 22 Ovayo Jonas, 23 Eldrique Adams.
Skeidsregter: Shannon Howard-Browne (Valke).
Afskop: 13:00
Ander Eindstryde:
09:00 – o.14 – Ben Vorster t. Eldoraigne
10:15 – o.15 – Ligbron t. Secunda
11:30 – o.16 – Pietersburg t. Piet Retief

