

Die Hoërskool Garsfontein se Bere behoort Saterdag sy ligawedstryde van die Virseker Noordvaal Cup se Beker-afdeling onoorwonne af te sluit.
Hoewel die Bere op sy tuisveld, Bere-park, sonder ‘n hele paar van sy staatmakers moet klaarkom vir sy ontmoeting met Dr. EG Jansen van Boksburg, sal hy steeds as die gunsteling op die veld draf.
Volg al die aksie op SuperSport Schools (www.supersportschools.com).
Veral na ‘n groot aantal van EG se spelers tydelik geskors is hangende ‘n ondersoek na verlede Saterdag se geveg met oudleerlinge en ondersteuners van Die Hoërskool Menlopark.
Die Jansies se afrigters, Regardt Botha en Rudi Dames, moes dus hierdie week buiten die navrae en kritiek oor die voorval ook nog ‘n span bymekaar probeer kry vir die uitdagende kragmeting.
Garsies se hoofafrigter, Sylvester Booysen, kon nie sy eerstekeuse haker of vaskopstut vir die kragmeting oorweeg nie. Stefan van der Vyver (haker) en Ruben Lombaard (vaskopstut) is tans vir die Suid-Afrikaanse o.18-span in die internasionale reeks in aksie.
Boonop is die span se heelagter, Drewyn Baron, ook vir die Suid-Afrikaanse o.18A-span in die reeks in aksie. Baron is boonop een van die voorste driedrukkers in die reeks met tien drieë sover. Monument se skrumskakel, Morné Noble, met 13 drieë tot dusver is die enigste speler wat meer drieë sover as Baron gedruk het.
Die Bere se gereelde skrumskakel, Dean Wilbers, sal op vleuel uitdraf met Yuvrah George wat steeds op die krukkelys is. Dian van Aswegen sal die oond skoonmaak. Die Cravenweek-losskakel, Ruan Fluks, moet Baron se tokse volstaan, terwyl die meer as bekwame Joshua Gouws op losskakel sal begin.
Brendon Branford (vaskopstut) en Francois van Niekerk (haker) moet Lombaard en Van der Vyver se leemtes vul.
In Rustenburg sal die Hoërskool Rustenburg teen Die Hoërskool Menlopark in die regstreekse TV-wedstryd (DStv kanaal 216) te staan kom.
Die Parkies het nog ‘n buitekans om tot die halfeindrondes deur te dring. Dit is nou te sê as die Noordvaal Skolerugby-vereniging nie die skool of die eerstespan straf na wat verlede week teen EG Jansen gebeur het nie.
Die span van Pretoria sal egter ook hulp van Monument en die Hoërskool Middelburg moet kry, want indien Waterkloof of Noordheuwel enige ligapunte in hul onderskeie kragmetings verdien, sal die Parkies die uitspele misloop.
Die tweestryd tussen die Parkies se kaptein en agtsteman, Tiaan Boshoff, en Rusties se Ruben van Heerden behoort een van die hoogtepunte van die kragmeting te wees. Van Heerden se oupa, Moaner, asook pa, Wikus, het die Springbokke op hul dag verteenwoordig.
Van Heerden jnr. het die Luiperds vanjaar op die Cravenweek in Gqeberha aangevoer.
Die spanne is:
Hoërskool Garsfontein t. Dr. EG Jansen om 12:30 op Bere-park in Pretoria:
Garsfontein: 15 Ruan Fluks, 14 Dean Wilbers, 13 Levi Jordaan, 12 Lemarc Henry, 11 Neil de Kock, 10 Joshua Gouws, 9 Dian van Aswegen, 8 JP Meintjes, 7 Derik Potgieter, 6 Jeandré Tredoux, 5 SW Potgieter, 4 JJ Fourie (kaptein), 3 Brendon Branford, 2 Francois van Niekerk, 1 André van Wyk.
EG Jansen: Geen span ontvang nie.
Skeidsregter: Toit du Toit.
Hoërskool Rustenburg t. Die Hoërskool Menlopark om 12:25 op Rustenburg:
Hoërskool Rustenburg: 15 Aydan Willemse, 14 Dian Huisamen, 13 Zak Swanepoel, 12 Liam Boshoff, 11 CJ Plaatjes, 10 Ricardo Enos, 9 Franco de Beer, 8 Ruben van Heerden, 7 Pieta Niemandt, 6 MJ Otto, 5 Thian Labuschagne, 4 Evan van Heerden, 3 Jayden Minnie, 2 Dandrè Graham, 1 Donovan Mosterdt.
Menlopark: 15 Rilee van Dalen, 14 Lucian Read, 13 Danie Botma, 12 Dylan Stumke, 11 Jody Abrahams, 10 Willie Pieterse, 9 Eben Botma, 8 Tiaan Boshoff (kaptein), 7 Johan Vermaak, 6 Dewald van Wyk, 5 Miller de Jager, 4 Lyndon Fourie, 3 Reando Fourie, 2 Dian de Bruin, 1 Jayden Harris.
