SuperSport Schools News

Onoorwonne Woeries staan tussen Potch Gimmies en Bowl-titel

Daar is tydens vanjaar se eindstryd van die Virseker Noordvaal Cup se Bowl-afdeling baie meer op die spel as om net die trofee omhoog te hou.

Hoërskool Centurion se eersterugbyspan is nog onoorwonne vanjaar en sal op sy tuisveld as die gunsteling op die veld teen Potchefstroom Gimnasium om 12:25 draf.

Dit is egter die Woeries se eerste verskyning in ‘n Noordvaal-eindstryd op eerstespanvlak. Vanjaar sal Potch Gimmies se derde agtereenvolgende verskyning in die eindstryd van die Bowl-afdeling wees.

Indien die Gimmies as oorwinnaars van die veld stap sal hul ook gepromoveer word om volgende jaar hul staal in die Skild-afdeling ten toon te stel.

Dit is dalk tyd vir die Gimmies na drie jaar in die eindstryd om hul rugbyprogram op ‘n hoër vlak te toets. Die Gimmies was in 2024 kampioene na hy vir Eldoraigne met 18-17 verslaan het. Verlede jaar het hulle teen hul aartsvyande, Potchefstroom Volkskool, met 17-22 in die eindstryd vasgeval.

Indien daar nie reeds genoeg emosie by ‘n eindstryd is nie, is dit ook die sekretaris van die Bowl-afdeling, Koot Booysen, se verjaarsdag dié Saterdag. Boonop is Booysen betrokke by die organisering van die rugby asook atletiek by die Woeries en was hy ook lank by die rugbyprogram van Potch Gimmies betrokke.

Die twee spanne het mekaar reeds vroeër vanjaar in ‘n ligawedstryd in die Bowl-afdeling ontmoet. Centurion was op hierdie dag gemaklik met 47-15 baas. Die Woeries se afrigters, Christiaan Burger en Fano Ntsala, sal glad nie oorgerus wees nie, daar het sedert dié oorwinning al heelwat water in die see geloop.

Die Gimmies onder afrigtingskap van Regardt Kleingeld het vanjaar amper by die agterdeur ingeglip, maar die span het gewys dat hy weet hoe om uitspeelwedstryde te wen. Die Gimmies het sy laaste ligawedstryd teen Jeugland met 40-35 gewen en daarna ook in die oorkruiswedstryde teen Merensky (48-17) en Hugenote (27-25) geseëvier om vir hulself ‘n plek in die halfeindronde te bespreek.

Hier het Gimmies vir Midstream College met 13-6 in ‘n klipharde tweestryd verslaan.

Die spanne is: 

Centurion: 15 Morné Prinsloo; 14 Matthew Austin, 13 Dylan Schoeman, 12 Luhardt Blom, 11 Tristan van Loggerenberg; 10 Bernick Fourie, 9 Stefan Vorster; 8 Darius Durie, 7 CJ Niemandt, 6 Malan le Roux, 5 Ulrich van Wyk, 4 Ruben Pretorius, 3 Coenraad du Toit, 2 Robbie Herholdt, 1 Lincoln Hattingh. Plaasvervangers: 16 Divan Tinckler, 17 Jandre Combrinck, 18 MJ van Deventer, 19 Zandru du Preez, 20 Ruan van Rensburg, 21 Ruan Stassen, 22 Kyle Fourie, 23 Amahle Kilani.

Potchefstroom Gimnasium: 15 Josh Pretorius; 14 MJ Potgieter, 13 Durand du Plooy, 12 Daniel Marais, 11 Ruan Delport; 10 Zandre da Silva, 9 Jayden Pelser; 8 De Wet Grobler, 7 Phillip Botha, 6 Paul Greyling, 5 Phillip Botha, 4 Rynel Rautenbach, 3 Nic Dreyer, 2 Logan Botes, 1 Meyer van der Wath. Plaasvervangers: 16 Francois Jansen van Vuuren, 17 Owen Human, 18 Evan Human, 19 Hanco Rossouw, 20 Brendon Kellerman, 21 Benji Pretorius, 22 Itumeleng Pheto, 23 Rea Moalosi.

Skeidsregter: Roelof Oosthuizen (Limpopo Blou Bulle)
Afskop: 12:25

ANDER EINDSTRYDE 

11:05 – o.16 – Centurion t. Brandwag (Benoni)
09:55 – o.15 – Ermelo t. Dinamika
08:45 – o.14 – Ermelo t. Midstream College

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.
Scroll to Top