SuperSport Schools News

Klofies wil Blou Tornado loslaat, maar Garsies nie maklik op Bere-park geklop

RUBEN LOUWRENS, veelsydige agterspeler van Waterkloof, in aksie vroeër vanjaar. FOTO: Frans Lombard/Actionpix

PRETORIA. – Die Bere van die Hoërskool Garsfontein mik vanjaar daarna om vir ‘n vierde agtereenvolgende jaar as die Noordvaal-kampioene gekroon te word.

Daar is egter nog ‘n voorlaaste hekkie teen die Hoërskool Waterkloof wat Dinsdag om 16:00 in die halfeindronde van die Virseker Noordvaal Cup se Beker-afdeling voor die Garsies lê.

Volg al die aksie regststreeks op SuperSport Schools (www.supersportschools.com).

Die Turkoois Bere het ‘n uitmuntende rekord op sy tuisveld, Bere-park. Hulle het laas in 2019 in ‘n wedstryd in die Noordvaal-reeks hier die knie gebuig. Dit was ‘n nederlaag van 29-32 teen Monument.

Die span het sedertien al 19 keer op sy tuisveld in die reeks gespeel en elke keer as oorwinnaars van die veld gestap. Boonop kon die span se afrigters, Sylvester Booysen en Marinus van der Watt, al drie hul nasionale o.18-spelers vir die kragmeting oorweeg.

Die span se haker, Stefan van der Vyver, asook vaskopstut, Ruben Lombard, het die Suid-Afrikaanse o.18-span gehelp om vir Frankryk (59-7), Ierland (51-15) en Engeland (68-40) die loef af te steek.

Van der Vyver was wel as flank vir die nasionale o.18-span in aksie, terwyl hy ook aan die kant van die skrum vir die Blou Bulle tydens die FNB Cravenweek in Gqberha gesak het. Hy het twee drieë vir SA-span in dië reeks gedruk.

Die Garsies se regtervleuel, Drewyn Baron, wat vir die SA o.18 se naasbestes, die SA o.18A-span, uitgedraf het, sal ook weer sy plek in die beginspan inneem. Baron is met 11 drieë tot dusver een van die voorste driedrukkers in die reeks, slegs Monument se SA Skole-skrumskakel, Morné Noble, met 14 drieë het al meer keer vanjaar agter die doellyn gaan kuier.

Nog meer interresant is die feit dat die Garsies drie spelers op sy plaasvervangersbank ingesluit het, wat tot onlangs nog op die krukkelys was. Hulle is Justin Blom (haker), Lourenz de Jager (agtsteman) en Yuvrah George (vleuel). Die trio sal sonder twyfel ‘n reuse impak maak wanneer hulle losgelaat word.

Die Klofies het verlede week teen Monument in hul nederlaag van 36-40 gewys dat hulle oor genoeg skietgoed beskik dat niemand hulle nie ernstig in ‘n uitspeelwedstryd moet opneem nie. Die span se heelagter, Alexander Griesel, is waarskynlik die enigste buiteagterspeler in die reeks wat oor die vaart beskik om Garsies se gevaarlike agterste driehoek te ontlont.

Die Blou Tornado se lostrio bestaande uit Almero Gerritson (Cravenweek-agtsteman), Stefan Pieters en Hugo Dercksen sal wel ook op hul beste moet wees indien hul span vir ‘n verrassing gaan sorg.

Die spanne is: 

Garsfontein: 15 Ruan Fluks; 14 Drewyn Baron, 13 Levi Jordaan, 12 Keagan Knighton, 11 Neil de Kock; 10 Joshua Gouws, 9 Dean Wilbers; 8 JP Meintjes, 7 Derik Potgieter, 6 Francois van Niekerk, 5 SW Potgieter, 4 JJ Fourie (kaptein), 3 Ruben Lombard, 2 Stefan van der Vyver, 1 André van Wyk. Plaasvervangers: 16 Justin Blom, 17 Brendon Branford, 18 Matt Kleingeld, 19 Lourenz de Jager, 20 Jeandré Tredoux, 21 Dian van Aswegen, 22 Lemarc Henry, 23 Yuvrah George.

Waterkloof: 15 Alexander Griesel; 14 Mieder Erasmus, 13 Meyer Pretorius (kaptein), 12 Ben Steyn, 11 Jacques Jansen van Rensburg; 10 Liam Schutte, 9 Marcel Tsiakos; 8 Almero Gerritsen, 7 Stefan Pieters, 6 Hugo Dercksen, 5 Marius Venter, 4 Phillip Mans, 3 Reinhard Duvenhage, 2 Stiaan Theron, 1 Wian Hetzel. Plaasvervangers: 16 Kayden Pruis, 17 CW Kruger, 18 Jayden Smit, 19 Jhannes de Beer, 20 Carlo Brits, 21 Wynand Gouws, 22 Aiden Bester, 23 Ruben Louwrens.

Skeidsregter: Regardt O’Neill (Blou Bulle).
Afskop: 16:00

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.
Scroll to Top