SuperSport Schools News

Nelspruit se Rhinos pak Kempies sonder Mkhabela in Plaat-halfeindstryd

TYE HABIB, regtervleuel van die Hoërskool Nelspruit, in aksie vroeër vanjaar in die Virseker Noordvaal Cup teen Wesvalia van Klerksdorp. PHOTO: Johan Orton

MBOMBELA. – Daar is nie veel te kies tussen die eersterugbyspanne van die Hoërskool Nelspruit en Kempton Park nie, so die halfeindstryd in die Virseker Noordvaal Cup se Plaat-afdeling Dinsdag tussen die twee spanne beloof om ‘n tipiese uitspeelwedstryd te wees.

Die wedstryd skop om 13:00 af. Volg al die aksie regstreeks op SuperSport Schools (www.supersportschools.com).

Die kragmeting is na Dinsdag geskuif omdat Nelspruit se heelagter, Rhandzu Mkhabela, Saterdag nog vir die Suid-Afrikaanse o.18A-span tydens die internasionale reeks in aksie was. Mkhabela was vir die grootste gedeelte van die nasionale span se drie oorwinning oor Ierland (32-31), Georgië (20-0) en Frankryk (51-26) in aksie.

Die Rhinos het egter besluit om Mkhabela nie in hul 23-tal vir die halfeindstryd in te sluit nie. Die feit dat hy verlede week vir 195 minute vir die nasionale span diens gedoen het, sou ‘n groot rol in die besluit gespeel het.

Die wenner van die halfeindstryd sal ‘n omgekrapte Hoërskool Zwartkop in Centurion om dié titel moet pak. Die Zwarries het vir Oos-Moot in die ander halfeindstryd Saterdag met 45-8 kaf gedraf. Zwwartkop is nog onoorwonne in vanjaar se liga en die volslae gunsteling om as kampioen gekroon te word.

Die Rhinos se beginspan is dus onveranderd van die span wat HTS Middelburg in die laaste ligawedstryd met 20-12 geklop het.

Nelspruit was in die ligawedstryd tussen die twee spanne naelskraaps met 30-29 op sy tuisveld in Mbombela baas. Die twee spanne het ook mekaar vroeër vanjaar in Kempton Park in die NWU Skole-reeks ontmoet, met die Rhinos was toe met 25-15 as oorwinnaars van die veld gestap het.

Die Kempies sal wel bly wees dat Excellent Mnkomo Dinsdag die fluitjie in Mbombela sal blaas. Mnkomo, lid van die Limpopo Blou Bulle se skeidsregtersvereniging, het verlede jaar die Beker-eindstryd tussen Garsfontein en Helpmekaar hanteer en was ook vroeër vanjaar op die FNB Cravenweek in Gqeberha in aksie.

Die Rhinos het in vanjaar se Plaat-afdeling nog net teen Zwartkop (33-49) die knie gebuig. Kempies is egter die span wat vir Zwartkop (21-22) die hardste vir ‘n sege laat werk het. Hulle was egter ook verlede week op hul tuisveld met 23-27 teen Wesvalia van Klerksdorp aan die verloorkant.

Die spanne is: 

Hoërskool Nelspruit: 15 Jeandré Aucamp; 14 Tye Habib, 13 Dian Lubbe, 12 Rian Botha, 11 Hanré Smit; 10 Ewan van der Merwe, 9 Kamo Monkwe; 8 Vian Louw, 7 Christiaan Botha, 6 Aldo van Jaarsveld, 5 Dirk Joubert, 4 Robroy MacGregor, 3 Christiaan Viljoen, 2 Mphobuhle Nyumba, 1 Lindani Ndlela. Plaasvervangers: 16 Sebastian Rheeder, 17 Adriaan van Wyk, 18 Jason Erasmus, 19 Ruan Ehlers, 20 Lolo Mthetwa, 21 Dylan Duvenhage, 22 Bjorn van Rooyen, 23 Dylan Steyn.

Kempton Park: 15 Ruan Opperman; 14 Bjorn Hardy, 13 Guillaume Botha, 12 Luca du Plooy, 11 Aubrey Hoskin; 10 Heinrich Burger, 9 Ettienne Stroebel; 8 Christian Nixon, 7 Juan Hall, 6 Wihan Strey, 5 Jordan Koekemoer, 4 Ruan Mostert, 3 Reece van Loggenburg, 2 Matthew Vermaak, 1 Tristan Marx. Plaasvervangers: 16 Giovanni Kruger, 17 Juan Olivier, 18 Dihan Keeve, 19 Wikus van Niekerk, 20 Marko van der Walt, 21 Bevan Grobler, 22 Reynard Burger, 23 Rocco Louw.

Skeidsregter: Excellent Mnkomo (Limpopo Blou Bulle)
Afskop: 13:00

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.
Scroll to Top