

KRUGERSDORP. – Monument se Wit Bulle behoort te veel skop vir Noordheuwel se Blues in Dinsdag se halfeindstryd van die Virseker Noordvaal Cup se Beker-afdeling hier op die Ras van Rooyen te hê.
Dit is egter steeds ‘n uitspeelwedstryd met so ‘n tikkie ekstra emosie omdat albei spanne vanuit Krugersdorp kom, so enige iets is op die dag moontlik.
Volg al die aksie regststreeks op SuperSport Schools (www.supersportschools.com).
Die Wit Bulle se losskakel, Jaydon Viljoen, is die speler wat meeste van die skop vir die tuisspan gee. Die Suid-Afrikaanse o.18A-span losskakel is met 94 punte tot dusver die voorste puntemaker in die Virseker Noordvaal Cup se Beker-afdeling.
Viljoen het boonop die nasionale span Saterdag met ‘n persoonlike bydrae van 21 punte gehelp om vir Frankryk met 51-26 die loef af te steek. Hy sal ook bly wees om sy vennootskap met verlede jaar se SA Skole-skrumskakel, Morné Noble, voort te sit.
Noble is vanjaar met 14 drieë tot dusver die voorste driedrukker in die Noordvaal-reeks. Hy was verlede jaar by Wynberg Boys’ High se vanjaar se SA Skole en o.18-losskakel, Achmat Behardien, se skakelmaat. Voeg daarby dat hy verlede jaar asook in 2024 saam met die Junior Springbokke se losskakel, Yaqheen Ahmed, se spanmaat was. Ahmed het verlede jaar op binnesenter vir Wynberg uitgedraf.
Monnas het die kragmeting vroeër vanjaar teen Noordheuwel met 41-15 gewen. Die Wit Bulle het vanjaar in die kompetisie nog net teen Garsfontein (32-61) die knie gebuig.
Die Blues het twee weke gelede van hul momentum met ‘n sege van 31-14 teen die Hoërskool Middelburg teruggekry. Die span het voor die sege twee nederlae teen onderskeidelik Menlopark (42-45) en die Afrikaanse Hoër Seunskool van Pretoria (26-66) op die lyf geloop.
Die span wat deur Stefan Lourens en Henri Crocker afgerig word, kan egter nie onderskat word nie. Indien die span se enjinkamer aan die gang kom, sal die Wit Bulle hul keer moet ken. Die Nories se kaptein en flank, Kean Lourens, saam met Armand van Eck en JB Blount vorm ‘n gedugte lostrio. Lourens en Van Eck het die Goue Leeus op die FNB Cravenweek in Gqeberha verteenwoordig.
Die tweestryd in die skrums tussen Ruben Botes (Noordheuwel) en Ben van Wyk (Monument) behoort ook een vir die fynproewer te wees. Veral omdat hul afrigters – Stefan Lourens (Noordheuwel) en Jannie du Plessis (Monument) albei meer as handige voorrymanne op hul dag was. Du Plessis het natuurlik die Springbokke gehelp om die Wêreldbeker in 2007 te verower, terwyl Lourens wat op sy dag self vir die Wit Bulle gespeel het, asook senior provinsiale rugby.
Die spanne is:
Monument: 15 Ray-Nathin van Kolver; 14 Loghan Langeveldt, 13 Blessing Monareng, 12 Juandré Ehlers, 11 Ruan Genis; 10 Jaydon Viljoen, 9 Morné Noble; 8 Ryno vd Westhuizen, 7 Ivan vd Merwe, 6 Siya Ncube, 5 Hanco van Geelen, 4 Matthew van Deventer, 3 Ben van Wyk, 2 Jayden Nel, 1 Dexter Chiyangwa. Plaasvervangers: 16 Arrie Nieman, 17 Luan Coetzee, 18 Carlo Claase, 19 Jack Milne, 20 Roché Botha, 21 Juhan Thompson, 22 Cameron Kourie, 23 Etienne Fourie.
Noordheuwel: 15 Junior Flemmer; 14 Edwill October, 13 Tristan Helmand, 12 Kieran Reid, 11 Prince Agu; 10 Tidi Moeketsane, 9 SW de Waal; 8 Armand van Eck, 7 Kean Lourens (kaptein), 6 JB Blount, 5 Robert Hurn, 4 Jared Coetzer, 3 Stephan Botha, 2 Wikus Roos, 1 Ruben Botes. Plaasvervangers: 16 Juan de Bruyn, 17 Cayden Streicher, 18 Rick van der Berg, 19 Rico van der Westhuizen, 20 Miguel Elliott, 21 Christopher Strauss, 22 Armand Coetzee, 23 Wilcu Roos.
Skeidsregter: Hernus Coetzee (Goue Leeus).
Afskop: 16:00.
