Gauteng, die voorste span op verlede jaar se Khaya Majola-week in Durban, sal sy aanslag op vanjaar se toernooi teen Boland begin.
Die toernooi word vanjaar van 14 tot 21 Desember in Pretoria aangebied. Gauteng het verlede jaar vir Westelike Provinsie in die hoofwedstryd van die toernooi in Durban geklop.
Gauteng sal op die tweede dag teen KwaZulu-Natal Binneland te staan kom. Die eerste twee dae se kragmetings word op die tydkrieket-stelsel gespeel.
Gauteng sal op die derde dag teen Namibië en Grens in sy twee Twintig20-wedstryde te staan kom. Namibië het verlede jaar se Khaya Majola-week onoorwonne afgesluit.
Die gasheer, Noordelikes, sal op die eerste dag teen KwaZulu-Natal te staan kom. Op die tweede dag sal hulle teen Westelike Provinsie sake uitspook.
Die gasheer het ’n tawwe loting gekry, maar het twee Suid-Afrikaanse o.19-spelers, Stefan Kloppers (Centurion) en Janneman Malan (Waterkloof), wat weer vanjaar vir die span verkiesbaar is.
Noordelikes sal vir Oostelikes en Limpopo in hul twee T20-wedstryde pak.
Die toernooi is laas in 2004 in Pretoria aangebied. Toe het die Kiwi Neil Wagner, Francois le Clus en Shaun von Berg vir Noordelikes se span gespeel.
Vrystaat en Oostelike Provinsie het mekaar daardie jaar in die hoofwedstryd van die toernooi gepak, met die Vrystaters wat met twee paaltjies koning gekraai het.
Die nasionale keurders sal op vanjaar se toernooi reeds begin sif vir die Suid-Afrikaanse o.19-span wat in 2016 die titel as wêreldkampioen sal moet gaan verdedig.
Die toernooi word in Bangladesj aangebied.
Die eerste drie dae se bepalings:
Dag 1 (Tydkrieket) – Westelike Provinsie t. Vrystaat; Gauteng t. Boland; Oostelike Provinsie t. KwaZulu-Natal Binneland; KwaZulu-Natal t. Noordelikes; Mpumalanga t. Limpopo; Namibië t. Griekwas; Grens t. Suidwestelike Distrikte; Noordwes t. Oostelikes.
Dag 2 (Tydkrieket) – Westelike Provinsie t. Noordelikes; Gauteng t. KwaZulu-Natal Binneland; Oostelike Provinsie t. Boland; KwaZulu-Natal t. Vrystaat; Mpumalanga t. Oostelikes; Namibië t. Suidwestelike Distrikte; Grens t. Griekwas; Noordwes t. Limpopo.
Dag 3 (Twintig20-wedstryde) – Ronde 1: Westelike Provinsie t. Mpumalanga; Gauteng t. Namibië; Oostelike Provinsie t. Grens; KwaZulu-Natal t. Noordwes; Noordelikes t. Oostelikes; KwaZulu-Natal Binneland t. Suidwestelike Distrikte; Boland t. Griekwas; Vrystaat t. Limpopo.
Ronde 2: Westelike Provinsie t. Noordwes; KwaZulu-Natal t. Mpumalanga; Oostelike Provinsie t. Namibië; Gauteng t. Grens; Vrystaat t. Oostelikes; Noordelikes t. Limpopo; KwaZulu-Natal Binneland t. Griekwas; Boland t. Suidwestelike Distrikte.
- Most experienced Garsie Ysbere’s campaign for third successive Wildeklawer T20-title still on track - 2026-10-11
- Booysen and Liebenberg spin Klofies to top of Pool A, Rowles on fire for St David’s - 2026-10-10
- Hopkins leads Westville to Super Over victory over Grey High, Emslie stars as St David’s beat Klofies - 2026-10-09
