
Die voormalige Blitsbok Jaco van Schalkwyk is as die Hoërskool Eldoraigne se nuwe Direkteur van Rugby aangestel.
Van Schalkwyk, is tans nog die Direkteur van Rugby by Graaff-Reinet Volkskool, waar hy die afgelope paar jaar die skool se rugbyprogram tot nuwe hoogtes geneem het.
Dit sal gewis ‘n groot uitdaging vir Van Schalkwyk wees, met Eldoraigne se eerstespan wat vanjaar nie ‘n enkele wedstryd op die rugbyveld kon wen nie. Die skool se o.14-span het wel in die eindstryd van die Virseker Noordvaal Cup se Skild-afdeling teen Ben Vorster met 19-36 die knie gebuig.
Die Eldos sal volgende jaar in die Bowl-afdeling van die reeks in aksie wees. Daar kan verwag word dat die skool in Centurion nie te lank in dié afdeling sal wil vertoef nie. Hy het groot name vir die pos uitgestof wat afrigters met ervaring oorsee asook op nasionale vlak insluit.
Van Schalkwyk bring ‘n seldsame kombinasie van elite-spelerervaring, meer as 12 jaar se rugbyprogramleierskap, eerste-spanafrigting en bewese spelerontwikkeling na Eldoraigne.
Die oud-leerling van die Hoër Jongenskool Paarl het die Blitsbokke in 2003-04 verteenwoordig. Hy het ook in sy rugbyloopbaan vir Westelike Provinsie, Vrystaat Cheetahs, Goue Leeus asook Oostelike Provinsie verteenwoordig. In Superrugby het hy vir die Cats asook die Leeus uitgedraf.
Tydens sy tyd in Gqeberha het hy ook die Future Kings van die been af gebring.
Gedurende sy tyd by Volkskool het Van Schalkwyk ‘n rugbyprogram help vestig wat ‘n gemiddelde jaarlikse wenpersentasie van ongeveer 80% gehandhaaf het.
“Ons het nie bloot na ’n afrigter vir ons Eerstespan gesoek nie. Ons het gesoek na iemand wat ’n rugbyprogram kan bou wat met die skool se waardegedrewe benadering belyn,” sê ’n opgewonde beheerliggaamvoorsitter, Pieter Fourie, oor die aanstelling.
Dit is egter sy vermoë om meer met mense as net met ’n telbord te doen wat vir Hoërskool Eldoraigne besonder belangrik is. Hy het ses spelers tot Grant Khomo- en Cravenweekvlak ontwikkel, noemenswaardige oorwinnings teen groter rugbyskole behaal en dit binne ’n skoolomgewing met ’n relatief klein poel van ongeveer 150 seuns vermag.
“Jaco verstaan hoëprestasie-rugby, want hy het dit self beleef. Hy verstaan egter ook Eldoraigne se sterk gemeenskapsfokus. Sukses binne Hoërskool Eldoraigne se konteks gaan nie gekoop of oornag geskep word nie – dit moet doelgerig gebou word. Sy rekord wys dat hy juis dít kan doen,” het Retief Smith, skoolhoof van Eldoraigne, gesê.
Hoërskool Eldoraigne sien sy aanstelling nie bloot as ’n verandering in rugbybestuur nie, maar as ’n belegging in die langtermynrigting van die sport by die skool. Jaco en sy vrou, Janine, sluit op 1 Oktober 2026 by die Eldo-gemeenskap aan.
