SuperSport Schools News

Tafel sit die Glug-Glug in Heidelberg Volkies vir stryd met Secunda

Die voorloper in die Skild-afdeling van die Virseker Noordvaal Cup, Heidelberg Volkskool, sal Saterdag sonder twee van sy staatmakers Tristan Munro (losskakel) en Steph Loubser (linkervleuel) na Secunda reis.

Albei word ‘n welverdiende ruskans deur hul afrigters, Louwtjie Dalhouzie en Innus Potgieter, gegun om seker te maak dat dié twee weer teen volgende week volkome van hul ligte beserings herstel het.

Die onmoeting teen Hoërskool Secunda skop om 12:30 af.

Die span se gereelde skrumskakel, Hein Oelofse, sal Munro se skoene op losskakel moet volstaan, terwyl Francois Smith die oond sal skoonmaak. Christo van Rooyen sal in Loubser se plek op vleuel uitdraf.

Volkies se twee Cravenweek-spelers, Jerado Tafel (heelagter) en Vaughn Steynvaart (binnesenter), sal soos gebruiklik die angel in hul span se aanval wees. Tafel is die voorste driedrukker in die Skild-afdeling met tien drieë in sy span se ses wedstryde tot dusver.

Hoewel die Valke nie ‘n goeie Cravenweek in Gqeberha beleef het nie, was die spel van Tafel een van die ligpunte. Hy het tydens die toernooi vier keer agter die doellyn gaan kuier. Steynvaart het self ‘n goeie toernooi beleef nadat hy kort voor die toernooi vanuit die Akademie-span opgeroep is.

Die Groen Drake van Hoërskool Eldoraigne is steeds op soek na hul eerste sege vir die 2026-seisoen. Hul reis van Saterdag na Piet Retief sal egter ‘n moeilike een wees vir die span om op die wenpad te kom.

Die twee spanne het mekaar vroeër vanjaar in Boksburg in ‘n uitspeelwedstryd om die laaste plek in die NWU Sport-reeks gepak, met Piet Retief wat gemaklik met 42-10 as oorwinnaars van die veld gestap het. Die tuisspan is nog ‘n moeiliker teenstander wanneer hy op sy tuisveld, die Jack Botes-stadion, uitdraf.

Die seuns wat vanjaar vir Eldoraigne uitgedraf het, verdien egter lof dat hul nooit handdoek ingegooi het nie. Dit was sover nie ‘n maklike seisoen nie, maar ‘n oorwinning in een van sy laaste drie wedstryde sal baie vir dié jong manne beteken. Die kragmeting van die naweek teen Piet Retief en volgende Saterdag se afspraak met Hoërskool Pietersburg kan dalk net ‘n trappie te ver wees.

Die span se laaste wedstryd van die seisoen teen die Hoërskool Lichtenburg kan dalk deur die span geteiken word om op ‘n hoë noot af te sluit.

Piet Retief se losskakel, Carl-Hein Creydt, het tot dusver ‘n skitterende seisoen beleef. Hy sal sonder twyfel Saterdag een van die dorings in die Eldos se vlees wees.

Die spanne is: 

Piet Retief t. Eldoraigne om 13:30 in die Jack Botes-stadion in Piet Retief: 

Piet Retief: 15 Owethu Shabalala, 14 Kamogelo Mothala, 13 De Klerk Ferreira, 12 Mukelo Nkosi, 11 Fiso Shabalala, 10 Carl-Hein Creydt, 9 Franco de la Rosa, 8 Dian Dickenson, 7 Tristan Hambrock, 6 Pedri Pienaar, 5 Fiso Methula, 4 Harald Gevers, 3 Waynne Mitchell, 2 Nqobani Gumede, 1 Melo Xulu.

Eldoraigne: 15 Gert Kok, 14 Zac Agenbag, 13 Aiden van Rooyen, 12 Niclas Möller, 11 Hugo Theron, 10 Eben Degenaar, 9 Jean du Randt, 8 Chaden Dartnall, 7 Ethan Beyer, 6 Cecil Rich, 5 MC Scheepers, 4 Xander Koopmans, 3 Jaydon-Luke Weber, 2 Jean de Villiers, 1 Wian Audier.

Secunda t. Heidelberg Volkskool om 12:30 op Secunda: 

Secunda: 15 Tiaan Byleveld, 14 Ryan Lottering, 13 Emilama Nose, 12 Herco Radley, 11 Jayden Scholtz, 10 Liam Olivier, 9 Kwhezi Mafanya, 8 Bernich Schmidt, 7 Henrique Serfontein, 6 Josua Jansen, 5 Adriaan Nortjé, 4 Mickey Jordaan, 3 Zandré Theron, 2 Kyle Viljoen, 1 Nathan Erasmus.

Heidelberg Volkskool: 15 Jerado Tafel, 14 Douw Beukes, 13 Tyrone Munro, 12 Vaughn Steynvaart, 11 Christo v Rooyen, 10 Hein Oelofse, 9 Francois Smith, 8 Albie Botha, 7 Juandre Pretorius, 6 Jaco Botha, 5 Klaas Venter, 4 Jano Dietrechsen, 3 Darius Minie, 2 Henru Coetzer, 1 Reuben Bothma.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.
Scroll to Top