

KRUGERSDORP. – Monument se Wit Bulle was soos ‘n volbloed resiesperd uit die hekke in die eindstryd van die Virseker Noordvaal Cup se Beker-afdeling op sy tuisveld, die Ras van Rooyen, hier.
Monnas het reeds na 12 minute se spel ‘n voorsprong van 21-0 in die eindstryd teen Waterkloof van Pretoria geniet. Die tuisspan het uiteindelik oortuigend met 52-22 as oorwinnaars van die veld gestap.
Monument het hiermee sy elfde titel as kampioen op eerstespanvlak in die oudste skolerugbykompetisie in Suid-Afrika beklink. Dit was ook die span se twee afrigters, Jannie du Plessis en Reinhard Gerber, se eerste titels.
Die Wit Bulle se taktiek was duidelik om vanaf die afskop spel vinnig te maak en sodoende vroeg druk op die Klofies te plaas.
Die feit dat die Klofies in ‘n klipharde halfeindstryd Dinsdag teen Garsfontein (27-26) in aksie was, sou die span sonder twyfel met ‘n paar kneusplekke gelaat het.
Monnas het ook die regte troepe gehad om hierdie taktiek toe te pas, met veral die skrumskakel, Morné Noble, wat met sy blitsvinnige diens agter die oond seker gemaak het, dat die Klofies nooit hul voete in die eerste 25 minute van die wedstryd kon vind nie. Noble se spel het baie herhinner aan die All Black-skrumskakel, Aaron Smith.
Weens die goeie diens het die losskakel, Jaydon Viljoen, feitlik nie ‘n voet verkeerd in die eerste helfte gesit nie. Hy het die agterlyn seepglad weggestuur en hy het ook met sy lang lynskoppe gesorg dat meeste van die spel in Klofies se gebied plaasgevind het.
Dit is min dat daar gesê sal word dat ‘n agterspeler die vonk verskaf het, maar die regtervleuel, Loghan Langeveldt, het deurgans werk gesoek, deur gate geglip asook op verdediging nie ‘n enkele sentimeter vir Waterkloof gegun nie.

Voeg daarby die spel van die buitesenter, Blessing Monareng, op die aanval sowel as op verdediging, wat as Virsekerbreker van die Wedstryd aangewys is. Monareng wat nog in graad 11 is se vertoning was liewer die van ‘n ervare matriekseun.
Voeg daarby die spesiale vertoning van Monnas se heelagter, Ray-Nathin Kolver, wat ‘n driekuns aan drieë in die tweede helfte behaal het. Kolver het soos ‘n warm mes deur botter die Klofies se verdediging oopgekloof.
Boonop was sy moeder daar om hom die eerste keer in drie jaar in aksie te sien.
Voorlangs is dit moeilik om uitblinkers te kies. As jou skrumskakel so baljaar omdat die spoed by die afbreekpunte so hoog was, dan het al agt hul kant gebring. Die twee slotte, Matthew van Deventer en Hanco van Geelen, saam met die flank Siya Ncube en die kaptein en agtsteman, Ryno van der Westhuizen, verdien wel ‘n ekstra klop op die skouer.
Vir Waterkloof was dit ‘n moeilike dag op kantoor, maar die span het wel in die skrums die oorhand gehad. Dan het die heelagter, Alexander Griesel, gewys dat hy volgende jaar waarskynlik onder die voorste heelagter in Suid-Afrika op skolevlak behoort te tel.
Puntemakers:
Monument 52 (28) – Drieë: Ray-Nathin Kolver (3), Siya Ncube, Ryno van der Westhuizen, Ruan Genis, Loghan Langeveldt, Blessing Monareng. Doelskoppe: Jaydon Viljoen (6). Waterkloof 22 (5) – Drieë: Jacques Janse van Rensburg (2), Wian Hetzel, Stiaan Theron. Doelskop: Nicolas Potgieter.
o.16
Monument 36 (19) – Drieë: Clayton Snyman (2), Lohann Botes, Tendayi Chiyangwa, Mogau Malebana. Doelskoppe: Arno van Molendorff (4). Hoërskool Rustenburg 29 (15) – Drieë: Mario Enos, Ryan Seas, Mondray Arendse, Emile Johannes. Doelskoppe: Ryan Pheiffer (3). Strafdoel: Pheiffer.
o.15
Helpmekaar Kollege 29 (10) – Drieë: Ariel Meij (2), Dylan Marais, Carlo Pretorius, Wessel Hattingh. Doelskoppe: Jordan Olwagen (2). Monument 18 (6) – Drieë: Okuhle Nkosi, Owen McPherson. Doelskop: Chanville Zaal. Strafdoele: Zaal (2).
o.14
Hoërskool Rustenburg 18 (8) – Drieë: Hano Malgas, Rihando Basson. Doelskop: Tashwin Maré. Strafdoel: Lewano Davids. Skepdoel: Lewando Davids. Hoërskool Middelburg 12 (12) – Drieë: Ruvé Joubert (2). Doelskop: TK Kachalanga.

