SuperSport Schools News

Wit Bulle bespreek plek in eindstryd in drieë-fees oor Nories

RUAN GENIS, sterk en haastige vleuel van Monument, sit hier af op een van sy kenmerlike lopies teen Noordheuwel in die halfeindronde van die Virseker Noordvaal Cup se Beker-afdeling. FOTO: Marius Nortjé

KRUGERSDORP. – Indien Noordheuwel se hoofafrigter, Stefan Lourens, voor Dinsdag se halfeindstryd in die Virseker Noordvaal Cup teen Monument ‘n fortuinverteller besoek het, en sy aan hom sou noem dat sy Blues 52 punte in die wedstryd sou aanteken.

Dan sou Lourens verskoon geword het, indien hy sou dink dat sy span vir ‘n opskudding sou sorg. Die Nories het 52 punte aangeteken, maar die Wit Bulle van Monnas was steeds agt punte (60-52) beter as hul buurskool.

Monnas sal eerskomende Saterdag in die eindstryd van die reeks op die Ras van Rooyen-veld in Krugersdorp teen die Hoërskool Waterkloof te staan kom.

Dit sal Monnas se eerste verskyning in die eindstryd wees sedert hulle in 2022 vir Garsfontein met 30-28 geklop het.

Lourens sal dalk teleurgesteld oor die uitslag wees, maar nie in die veggees wat sy span ten toon gestel het nie. Met ‘n paar minute oor in die kragmeting het sy span op 52-53 nog met ‘n enkele punt agter geloop.

Monnnas se slot Matthew van Deventer het met sy drie en sy span se agtste in die kragmeting die sege vir sy span beklink.

Monnas se skitterende skrumskakel, Morné Noble, het soos deurgans die seisoen die geval was ‘n belangrike rol in die span se vertoning vertolk. Sy skakelmaat, Jaydon Viljoen, het 20 punte met sy skopskoen aangeteken. Viljoen het dus vanjaar al 114 punte in die reeks opgestapel.

Die span se kaptein en agtsteman, Ryno van der Westhuizen, asook die kantman Siya Ncube verdien ook ‘n klop op die skouer vir hul blink vertonings. Agterlangs het Monnas se twee vleuels, Ruan Genis en Loghan Langeveldt, meer as genoeg geleenthede gekry om te wys waartoe hul instaat is.

Vir die Nories het sy losskakel, Tidi Moeketsane, die seisoen met nog ‘n uitmuntende vertoning afgesluit. Moeketsane het self 20 punte tot sy span se totaal via ‘n drie, ses doelskoppe en ‘n strafdoel aangeteken.

Die span se binnesenter, Kieran Reid, was gevaarlik elke keer wat hy aan die bal gevat het. Dit terwyl die kaptein en flank, Kean Lourens, saam met die agtsteman, Armand van Eck, die pap behoorlik dik aangemaak het. Dié vertoning moes naby aan Lourens se beste van die seisoen gewees het.

Puntemakers: 

Monument 60 (29) – Drieë: Siya Ncube, Ivan van der Merwe, Loghan Langeveldt, Morné Noble, Ray-Nathan van Kolver, Blessing Monareng, Juhan Thompson, Matthew van Deventer. Doelskoppe: Jaydon Viljoen (7). Strafdoele: Viljoen (2). Noordheuwel 52 (24) – Drieë: SW de Waal, Armand van Eck, Kieran Reid, Kean Lourens, Ruben Botes, Tidi Moeketsane, Strafdrie.  Doelskoppe: Moeketsane (6). Strafdoel: Moeketsane.

Ander spanne: 

o.16: Monument 34, Helpmekaar 27; Hoërskool Rustenburg 28, Garsfontein 27.

o.15: Monument 10, Noordheuwel 10 (Monument dring deur tot die eindstryd); Helpmekaar 28, Garsfontein 19.

o.14: Hoërskool Rustenburg 29, Menlopark 19; Hoërskool Middelburg 32, Helpmekaar 24.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.
Scroll to Top