SuperSport Schools News

Wie gaan 2018 as Suid-Afrika se voorste skolespan afsluit?

Sharing this article

NewsGKadeWolhuterGrey-kollege en Paul Roos Gimnasium sal mekaar Saterdag in ‘n wedstryd pak wat met ‘n Wêreldbeker-eindstryd tussen die Springbokke en die All Blacks vergelyk kan word. Albei spanne is nog onoorwonne vanjaar en die wenner van dié wedstryd in Bloemfontein sal 2018 as Suid-Afrika se voorste skolespan afsluit.

Die wedstryd tussen die twee eerstespanne is ‘n FNB Classic Clash en word regstreeks op SuperSport uitgesaai. DigiTV.co.za sal ook al die wedstryde op die GCB A-veld regstreeks uitsaai. 

Hoewel die feit dat albei spanne ‘n paar spelers kortkom wat nog Saterdag vir die SA Skole-span teen Engeland moet diens doen wel van die wedstryd se glans steel, heers daar groot opwinding in Stellenbosch en die Rosestad oor dié kragmeting. Vir die gasheer sal sy vaskopstut, Herman Aggenbag, flank De Wet Marais en die buitesenter, Wyclef Vlitoor, die wedstryd weens hul verpligtinge by die nasionale skolespan misloop. 

Paul Roos se SA Skole-spelers wat nie beskikbaar is nie, is Brendan Venter (binnesenter), JJ Kotze (kaptein en haker), Hanru Jacobs (vaskopstut) en Juan Mostert (losskakel). Op papier is Paul Roos se aanslag die grootste slag deur sy verteenwoordiging in die SA Skole-span toegedien. Hoe groot die leemte is wat elk van die spelers van die twee spanne laat sal egter eers Saterdag om 13:55 wanneer die spanne op die veld is duidelik wees.

Grey-kollege het in sy vorige wedstryd teen Glenwood in Durban wel met 25-elk gelykop gespeel. Glenwood het vanjaar ook die seisoen onoorwonne afgesluit, maar sy wedstryd teen Grey was sy enigste teen een van die voorste tien spanne vanjaar in Suid-Afrika. Paul Roos het heeltemal ‘n vlekkelose rekord met sy sege oor die Hoër Jongenskool Paarl (44-8) wat waarskynlik sy indrukwekkendste tot dusver die seisoen was. 

Boishaai was die afgelope drie jaar Suid-Afrika se voorste skolespan so die nederlaag teen Paul Roos in die Eikestad was ‘n gevoelige een. Paul Roos kon Grey laas in 2015 (19-12) klop, maar laas in die Rosestad in 2006. In die span van 2006 was Francois Hougaard en Stephan Dippenaar. 

In 2009 moes Grey sonder ses SA Skole-spelers na die Eikestad reis. Paul Roos was op die dag met 9-3 baas met die Bok-senter Francois Venter wat op daardie dag op losskakel vir Grey moes diens doen. Die 

Die skeidsregter vir die hoofmaal sal die ervare Ben Crouse wees. Crouse is een van die voorste skeidsregters in die internasionale sewesreeks. Sy een assistent skeidsregter Jaco Kotze het vanjaar se hoofwedstryd van die Cravenweek in die Paarl hanteer. Kotze het ook die fluitjie vir die hoofwedstryd van die Cravenweek van 2012 in Port Elizabeth beman. 

Kotze was in 2010 ook die skeidsregter toe Grey vir Paul Roos met 41-29 in die Rosestad verslaan het. Die Bok-losskakel Johan Goosen was daardie dag op sy stukke en het 36 van Grey se punte aangeteken. 

Die tuisspan se sleutelspelers tot sukses in Saterdag se kragmeting is die heelagter, Richard Kriel, binnesenter Franco Smith en die skrumskakel, Ross Braude agterlangs. Indien Smith daarin slaag om genoeg ruimte vir Ian Small-Smith aan sy buitekant te gee, behoort daar ‘n paar gapings in die middelveld oop te gaan. Small-Smith het die heel seisoen op vleuel uitgedraf, maar sal soos sy broer William Small-Smith op daai dag in 2009 die nr 13-trui oor die kop trek. 

Voorlangs sal Werner Gouws op sy stukke moet wees asook die flank Raynardo Gouveia by die afbreekpunte. Paul Roos beskik steeds oor ‘n gedugte pak voorspelers met Jarod Cairns (flank), Mink Charink en Robbie Rodgers (albei voorrymanne) wat spelers van gehalte is. Agterlangs sal Grey vir Kade Wolhuter (losskakel) en die heelagter, Remy Engelbrecht, moet dophou. 

Wolhuter het die heel jaar die laaste vesting beman, maar het op o.16-vlak losskakel gespeel. Engelbrecht het die seisoen op vleuel uitgedraf, maar sy vaart en krag sal Grey twee keer laat dink om hom met hoë hangskoppe te toets. 

Die spanne is: 

Grey College: 15 Richard Kriel, 14 Marcell Muller, 13 Ian Small-Smith, 12 Franco Smith, 11 Lesley Botha, 10 Zander du Plessis, 9 Ross Braude, 8 Werner Gouws, 7 WJ Steenkamp (kaptein), 6 Raynardo Gouveia, 5 Danwich Beukes, 4 George Cronjé, 3 Roux Duvenage, 2 André-Hugo Venter, 1 Jan-Hendrik Wessels. 

Paul Roos Gimnasium: 15 Remy Engelbrecht, 14 Aiden Salie, 13 Regan van der Westhuizen, 12 Ruben Labuschagne, 11 Tiaan Pretorius, 10 Kade Wolhuter, 9 Xander Botha, 8 Matthew Cordy, 7 Herman Heins, 6 Jarod Cairns, 5 Daniel Swart, 4 Johann Bouwer, 3 Mink Scharink, 2 Jan-Corrick van der Watt, 1 Robbie Rodgers. 

Skeidsregter: Ben Crouse. 
Assistent Skeidsregters: Jaco Kotze en Darren Colby.

Vorige Uitslae: 

2017 Grey College 30 Paul Roos Gimnasium 28 Stellenbosch
2016 Grey College 34 Paul Roos Gimnasium 32 Bloemfontein
2015 Paul Roos Gimnasium 19 Grey College 12 Stellenbosch
2014 Grey College 25 Paul Roos Gimnasium 20 Bloemfontein
2013 Grey College 40 Paul Roos Gimnasium 8 Stellenbosch
2012 Grey College 33 Paul Roos Gimnasium 23 Bloemfontein
2011 Grey College 36 Paul Roos Gimnasium 35 Stellenbosch
2010 Grey College 41 Paul Roos Gimnasium 29 Bloemfontein
2009 Paul Roos Gimnasium 9 Grey College 3 Stellenbosch
2008 Grey College 47 Paul Roos Gimnasium 15 Bloemfontein
2007 Grey College 40 Paul Roos Gimnasium 14 Stellenbosch
2006 Paul Roos Gimnasium 16 Grey College 11 Bloemfontein
2005 Grey College 16 Paul Roos Gimnasium 11 Stellenbosch
2004 Paul Roos Gimnasium 21 Grey College 18
2004 Grey College 24 Paul Roos Gimnasium 23
2003 Grey College 18 Paul Roos Gimnasium 17 Stellenbosch
2002 Grey College 19 Paul Roos Gimnasium 8 Bloemfontein
2001 Grey College 15 Paul Roos Gimnasium 6 Stellenbosch
2000 Grey College 42 Paul Roos Gimnasium 13 Bloemfontein
1999 Grey College 29 Paul Roos Gimnasium 26 Stellenbosch
1998 Grey College 23 Paul Roos Gimnasium 15 Bloemfontein
1997 Paul Roos Gimnasium 12 Grey College 8 Stellenbosch
1996 Grey College 18 Paul Roos Gimnasium 10 Bloemfontein
1995 Grey College 21 Paul Roos Gimnasium 10 Stellenbosch
1994 Paul Roos Gimnasium 31 Grey College 29 Bloemfontein
1993 Paul Roos Gimnasium 27 Grey College 4 Stellenbosch
1992 Grey College 20 Paul Roos Gimnasium 6 Bloemfontein
1991 Paul Roos Gimnasium 20 Grey College 3 Stellenbosch

 

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.
Scroll to Top