

PRETORIA. – “Ons as Kloof-gemeenskap het hierdie wen nodig gehad,”
Dit is die woorde van die Hoërskool Waterkloof se hoofafrigter, Cobus van Dyk, na sy rugbyspan Dinsdag vir ‘n reuse opskudding met ‘n sege van 27-26 oor Hoërskool Garsfontein op Bere-park hier in die halfeindronde van Virseker Noordvaal Cup se Beker-afdeling gesorg het.
Die Klofies het hiermee die Garsie Bere se onoorwonne status in vanjaar se reeks asook die tuisspan se oorheersing die afgelope vier jaar tot ‘n einde gebring.
Dit was ook die Garsies se eerste nederlaag op sy tuisveld in dié reeks sedert 2019.
Garsfontein is sedert 2023 die kampioen van die Beker-afdeling. Daar sal dus Saterdag in Krugersdorp in die eindstryd tussen Monument en Waterkloof ‘n nuwe kampioen gekroon word.
Indien die tuisspan gewonder het om hulle ‘n briesie of die volle Blou Tornado sou moes trotseer is daardie vraag reeds in die eerste agt minute van die kragmeting beantwoord. Waterkloof se skrumskakel, Marcel Tsiakos, het deur ‘n gaping in die vyfde minuut geglip en die span se Cravenweek-agtsteman, Almero Gerritsen, kon neffens die doelpale oorduik.
Slegs drie minute later het die span se vleuel Jacques Jansen van Rensburg in die hoek oorgeduik na die slot Phillip Mans omgekeerde besit in ‘n lynstaan verseker het. Die Garsies het heelwat probleme in die aspek van die spel beleef.
Die feit dat die span se haker, Stefan van der Vyver, slegs in een kragmeting teen Hoërskool Middelburg die afgelope twee maande op haker gespeel het, het sonder twyfel ‘n impak daarop gehad. Van der Vyver het vir die Blou Bulle asook die Suid-Afrikaanse o.18-span op flank uitgedraf.
Hy was in die vastelos in die halfeindstryd soos gewoonlik een van sy span se staatmakers en is nie maklik grond toe gebring wanneer hy die bal onder die arm vasgeknyp het nie.
Niemand was op die dag beter vir die Garsie Bere as hul kaptein en slot, JJ Fourie, nie. Hy het deurgans die vuur in die enjinkamer gestook en ook telkens oor die voordeellyn gebars wanneer hy in besit gestel is.
Die Klofies se lostrio bestaande uit Gerritsen, Stefan Pieters en Hugo Dercksen het reuse werk in die vastelos verrig. Geen span wen ‘n uitspeelwedstryd waarin jy as die buiteperd op die veld draf, indien jou losvoorspelers nie ‘n groot aantal duikslae uitvoer nie.
Die trio is boonop goed deur die slot Mans asook Carlo Brits aangevul. Brits het Gerritsen in die tweede helfte vervang en die goeie werk van die Cravenweek-agtsteman voortgesit.
Klofies se regtervleuel, Mieder Erasmus, het na omgekeerde besit presies gedoen wat nodig is wanneer ‘n geleentheid na jou kant toe in ‘n halfeindstryd kom. Hy het dit met albei hande aangegryp en met sy vaart asook ‘n steekskoppie gaan afrond.
Die Klofies het teen rustyd ‘n voorsprong van 17-12 geniet.
Die Bere na 59 minute se spel in die halfeindstryd die eerste keer die voortou geneem toe sy flank Francois van Niekerk oor die doellyn gebars het. Boonop het die losskakel, Joshua Gouws, met die doelskop die voorsprong van 26-22 gerek.
Daar is verwag dat Garsfontein se plaasvervangersbank met Justin Blom (haker), Yuvrah George (vleuel) en Lourenz de Jager (agtsteman) dalk later in die wedstryd hom sou help om die oorhand te kry. Dit was egter die Klofies wat die uitklophou met ongeveer sewe minute oor danksy ‘n drie deur Tsiakos geplant het.
Garsfontein se dissipline asook ongedwonge foute het hom die wedstryd gekos. Dit terwyl Klofies se verdediging asook die aanvallende spel deur sy agterhoede vir hul die deurslag gegee het.
Die agterspelers van Waterkloof het meestal die regte keuses op die regte tye op die aanval gemaak. Die impak van die span se agterlynafrigter, James Winstanley, kan hier nie gering geag word nie.
Die halfeindstryde van die junior-spanne is reeds Saterdag beslis.
Puntemakers:
Waterkloof 27 (17) – Drieë: Almero Gerritsen, Jacques Jansen van Rensburg, Mieder Erasmus, Alexander Griesel, Marcel Tsiakos. Doelskop: Liam Schutte. Garsfontein 26 (12) – Drieë: Stefan van der Vyver, Levi Jordaan, Lemarc Henry, Francois van Niekerk. Doelskoppe: Joshua Gouws (3).
Ander spanne:
o.16: Monument 34, Helpmekaar 27; Hoërskool Rustenburg 28, Garsfontein 27.
o.15: Monument 10, Noordheuwel 10 (Monument dring deur tot die eindstryd); Helpmekaar 28, Garsfontein 19.
o.14: Hoërskool Rustenburg 29, Menlopark 19; Hoërskool Middelburg 32, Helpmekaar 24.
