

GQEBERHA. – Die Vrystaat se losskakel, Zachary Walburgh, was op sy stukke in sy span se openingswedstryd teen die Limpopo Blou Bulle tydens die eerste dag van die FNB o.18 Cravenweek hier.
Walburgh het 31 van sy span se 66 punte in hul sege van 66-41 oor die Limpopo Blou Bulle op die Kolisi-veld van Grey High School.
Wat die vertoning nog meer merkwaardig maak is die feit dat Walburgh meeste van sy rugby vanjaar vir die Peaches, Grey Kollege se derde span, gespeel het.
Dit is slegs drie punte minder as Gerbrand Grobler se Vrystaatse rekord van 34 punte teen Suidoos Transvaal tydens die 1981-toernooi in Worcester.

Dit was tot en met 2011 die toernooirekord toe André Esterhuizen (Luiperds) met 38 punte teen Grens-platteland daarop verbeter het.
Walburgh se spogvertoning het boonop nie net oor die punte gegaan nie. Sy balverspreiding was van hoogstaande gehalte, terwyl daar ook niks fout met sy skopwerk was nie. Hy het drie van sy span se tien drieë afgerond asook agt doelskoppe tussen deur die pale gejaag.
Die span se twee senters, Ruan Roux en Eddie Mabena, het ook elk dubelle driedruk-plesier ervaar. Die Vrystaat moes wel hard werk vir dié sege. Dit was sonder twyfel ‘n begeesterde vertoning deur die Limpopo Blou Bulle en waarskynlik die unie se beste sedert ten minste 2019 op die toernooi.
Die span se flank Andru de Beer het voorlangs die vuur aangesteek met die kaptein en vaskopstut, Stephan Jansen van Rensburg, asook die haker, Ziahn Lombaard, wat die Vrystaters besig gehou het.
Die span se heelagter, Lehlogonolo Letlabola, is boonop ook vir sy aanvallende spel agterlangs met twee drieë beloon. Voorlangs het Hennie Bredenhann (loskopstut) ‘n goeie vertoning vir die Vrystaters gelewer.
In ‘n wedstryd van twee helftes het Boland vir die Luiperds met 39-20 danksy ‘n driekuns deur die heelagter, Anwill Jacobs, getroef. Jacobs het sy driekuns met ‘n onderskepdrie in die laaste beweging van die kragmeting voltooi.
Die Luiperds het met die omdraaislag met 13-3 voorgeloop, maar die Wynboere het in die tweede helfte net te veel spasie gekry om uiteindelik as oorwinnaars van die veld te stap.
Puntemakers:
Vrystaat 66 (28) – Drieë: Zachary Walburgh (3), Eddie Mabena (2), Ruan Roux (2), Lamla Mgedezi, Andrew Wessels, Unathi Ntuli. Doelskoppe: Walburgh (8). Limpopo Blue Bulls 41 (19) – Drieë: Lehlogonolo Letlabola (2), Juan Dreyer, Juan Randell, Kristen Swanepoel, Andru de Beer, Mahlatse Kekana. Doelskoppe: Randell (3).
Boland 39 (3) – Drieë: Anwill Jacobs (3), Dihego Braaf, JP Lotriet. Doelskoppe: Jaydan van Niekerk (4). Strafdoele: Johan van Deventer, Van Niekerk. Luiperds 20 (13) – Drieë: Aydan Willemse, De Wet Grobler. Doelskoppe: Ricardo Enos (2). Strafdoele: Enos (2).

