SuperSport Schools News

Ligbloues lyk onkeerbaar op VKB Stedelike-week

EASTIAN MARX, buitesenter van die Blou Bulle XV-tal sny hier deur ‘n gaping in sy span se sege van 64-24 oor the KwaZulu-Natal Uitnodigingspan tydens die VKB Stedelike-week in Reitz. FOTO: Hannes Nienaber

Daar sal vanjaar ‘n nuwe kampioen in die VKB Stedelike-week in Reitz gekroon word.

Die Blou Bulle XV-tal kom Donderdag teen om 16:05 teen die Western Cape Disas in die eindstryd van die toernooi op Piet Geyer-park te staan.

Daar was sover nog geen keer aan die Ligbloues nie. Die span het Dinsdag die KwaZulu-Natal Uitnodigingspan met 64-24 behoorlik die loef afgesteek.

Dit nadat hy die Namibiese o.19-span met 71-24 op die eerste dag afgeransel het. Die span word deur die klipharde flank, Hugo Dercksen, aangevoer.

Die span moes boonop in die kragmeting teen die KZN Uitnodigingspan sonder een van sy staatmakers Joshua Gouws op buitesenter klaarklom. Gouws is na afloop van die eerste wedstryd na die Blou Bulle se Cravenweek-span opgetrek nadat sy Affie-spanmaat, Dandré Brink, nie betyds van sy dyspierbesering kon herstel nie.

In Gouws se plek is Estian Marx opgeroep om dringend by die Ligbloues in die Riemland aan te sluit. Marx het dadelik sy voete gevind en was een van die span se uitblinkers teen die KZN Uitnodigingspan. Marx is nie onervare nie, hy het darem al verlede jaar sy unie op die Akademie-week verteenwoordig.

Die Ligbloues sal nie sommer van die titel weerhou word nie. Die span het ‘n hele paar spelers in sy geledere wat net so maklik volgende week op die Cravenweek in Gqeberha in aksie vir meeste van die unies in aksie kon wees.

Die span se losskakel en ja, nog ‘n Joshua Gouws het tot dusver ‘n uitstekende toernooi beleef. Gouws se Garsfontein-spanmaat, Ruan Fluks, is die Bulle se losskakel by die Cravenweek.

Die span se lostrio, bestaande uit Dercksen, Derik Potgieter en Carlo Brits, is ook ‘n gedugte kombinasie.

Die Blou Bulle het verlede jaar dié toernooi ook onoorwonne afgesluit, maar was nie in die eindstryd in aksie nie. Verlede jaar se kampioen, die Vrystaat Arende, sal op die laaste dag in die vernaamste voorwedstryd teen die o.19-span van UXI te staan.

Die Arende kon na hul sege van 26-7 op die tweede dag teen die Broncos ook gehoop het op ‘n kans om hul titel as kampioen te verdedig. Die span se skrumskakel, Divan Bezuidenhout, was sy span se beste speler in die sege oor die Broncos.

Die Disas het hul plek in die eindstryd met ‘n sege van 38-26 oor die UXI o.19-span bespreek. Die span vanuit die Wes-Kaap se vleuel Matt van Wyk het op die punte oor te veel vaart vir sy teenstaanders beskik en twee keer ‘n draai agter die doellyn gaan maak. Hy is ook welverdiend as Speler van die Wedstryd vir hierdie vertoning aangewys.

Laaste dag se bepalings: 

09:00 – Diamante t. Zululand; 10:25 – Noord KwaZulu-Natal t. Namibië o.19; 11:50 – Griffons Platteland t. Pirates; 13:15 – KwaZulu-Natal Uitnodigingspan t. Broncos; 14:45 – Vrystaat Arende t. UXI o.19; 16:05 – Blou Bulle XV t. Western Cape Disas.

Puntemakers: 

Blou Bulls XV 64 (29) – Drieë: Hugo Dercksen (2), Carlo Brits (2), Liundokuhle Ndwandwe, Miller de Jager, Jayden Meintjies, Dian de Bruin, Dehan Botha, Strafdrie. Doelskoppe: Joshua Gouws (6). KZN Uitnodigingspan 24 (12) – Drieë: Kyden Ward, Lisakhanya Majola, Dylan Strydom, Lwandle Khuzwayo. Doelskoppe: Deedrick Gericke (2).

Western Cape Disas 38 (17) – Drieë: Matt van Wyk (2), Gerhard Groenewald, Caleb Reeding, Deros Manya, Charl Mongena. Doelskoppe: Eugene Slabbert (3), Marwaan Bam. UXI o.19 26 (5) – Drieë: Mvela Shangase, Dennis Kotze, Thabani Welcome, Ayanda Hlongwane. Doelskoppe: Adam Cahill (3).

Vrystaat Arende 26 (14) – Drieë: Divan Bezuidenhout, JC van Niekerk, Louis de Wet, Paul Buitendag. Doelskoppe: Caden Janse van Rensburg (3). Broncos 7 (0) – Drie: Tristan Mills. Doelskop: Mills.

Noord KwaZulu-Natal 37 (6) – Drieë: Melokuhle Mnikathi (2), Katleho Makoni, JD Knop. Doelskoppe: Josh Jordaan(4). Strafdoele: Jordaan. Pirates 33 (19) – Drieë: Lincoln Schutte (2), Joel Vlok, Rory Bezuidenhout, Christiaan Venter. Doelskoppe: Aedon Willemse (4).

Namibië 45 (28) – Drieë: Zayden Schreuder (2), Carlos Florion (2), Sergio Steenkamp, Carlos de Klerk, Juan van Wyk. Doelskoppe: Adriaan Boonzaaier (4), De Klerk. Zululand Rhinos 7 (7) – Drie: Nakakela Mthethwa. Doelskop: Dino Bezuidenhout.

Griffons Platteland 50 (14) – Drieë: Ian Odendaal (2), MJ Hattingh (2), Derrick Ndude, Dian de Jager, Kagiso Plaatjies, Strafdrie. Doelskoppe: WJ Koekemoer (3). Diamante 5 (5) – Drie: Liam Botha.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.
Scroll to Top