
Daar sal Saterdag vier spelers in Jim Fouché se eersterugbyspan op die veld in die Vrystaatse A-liga eindstryd draf, wat presies sal weet hoe dit voel om oor die laaste hekkie te struikel.
Die Groen Masjien se Rico Kellerman (slot en kaptein), HJ Noeth (haker), JC van Niekerk (flank) en JG Noeth (losskakel) was almal verlede jaar in die nederlaag van 10-17 in die Vrystaatse eindstryd teen Fichardtpark in aksie. Die twee Noeth-broers het al JF se punte in dié eindstryd aangeteken.
JF kom Saterdag om 13:00 in dié eindstryd teen sy aartsvyand, Hoërskool Sentraal, op Fichardtpark se hoofveld te staan. Dit sal die sesde keer sedert 2008 wees wat hierdie twee skole se eerstespanne mekaar in die eindstryd pak.
Glo dit of nie die Tralies se enigste twee titels in die Vrystaatse A-liga het hy met oorwinnings in 2015 (31-28) en 2019 (23-20) oor die einste Jim Fouché beklink. Vanjaar sal JF se sesde agtereenvolgende verskyning in die eindstryd wees.
Die span se hoofafrigter, Corné Erasmus, sal vir die 12de keer by ‘n Vrystaatse A-liga eindstryd betrokke wees. Hy het Louis Botha in 2010, 2013, 2014 en 2016 tot kampioen gebrei. Vir JF het hy tot titels in 2022 en 2023 afgerig.
Die Tralies se breiers, Rohan Erasmus en CJ Holtzhausen, sal die eindstryd as ‘n geleentheid vir hul span sien om beter rekenskap van hulself teen JF te gee. Die Groen Masjien het die liga-wedstryd tussen die twee spanne vroeër vanjaar met 38-28 gewen. Die Blokke het vanjaar ‘n goeie seisoen op die rugbyveld beleef, maar die span sal terugkyk na dié kragmeting wat ook ‘n FNB Classic Clash was, as ‘n dag wat hul nie op hul beste was nie.
Een speler wat Saterdag in die eindstryd heelwat minder beweegruimte kan verwag is JF se agtsteman, Juan Swart. Hy het in die ligawedstryd teen Tralies vier keer oor die doellyn gebars. Swart het vanjaar in sy span se 14 wedstryde tot op hede 14 keer ‘n draai agter die doellyn gemaak.
Swart, Van Niekerk asook die twee Noeth-broers was vanjaar vir die Vrystaatse Arende in aksie. Twee van JF se spelers, Madiba Matanzima (binnesenter) en Reece Sekila (plaasvervanger skrumskakel) was op die nasionale Akademie-week vir die Blikore in aksie.
Die Tralies het drie spelers – Kia Babu (linkervleuel), Diado Jacobs (plaasvervanger stut) en Eugene Jansen (senter) in aksie vir die Vrystaatse Akademie-span gehad. Jansen en Babu sal egter nie Saterdag in die eindstryd in aksie wees nie.
Die Bloktruie se spelers wat hul stukke moet wees indien hul die bordjies teen JF wil verhang is sy buitesenter, Johan du Plessis, asook die heelagter, Hanco Nel.
Jim Fouché het tydens die Wesgrow-reeks slegs een keer teen Fichardtpark met 17-29 die knie gebuig. Die span is egter nie as kampioen gekroon nie nadat Diamantveld (36 ligapunte) met die louere weggestap het. JF het met 34 ligapunte in die derde plek geëindig.
Die spanne is:
Jim Fouché: 15 Dewan Booysen; 14 Stefan Labuschagne, 13 Jayden Pieterse, 12 Madiba Matanzima, 11 Rohan Nothnagel; 10 JG Noeth, 9 Joran Jacobs; 8 Juan Swart, 7 Johan van Dyk, 6 JC van Niekerk, 5 Arno Smit, 4 Rico Kellerman (kaptein), 3 Ruan Kruger, 2 HJ Noeth, 1 Jordan de Villiers.
Sentraal: 15 Hanco Nel, 14 Liam Pretorius, 13 Johan du Plessis, 12 Waldo Slabbert, 11 Arno Goosen; 10 Lehanco Malan, 9 Christopher du Toit, 8 MJ Cronjé, 7 Jarryd Lubbe, 6 Tian Clack, 5 Pieter Muller (kaptein), 4 Marco Fourie, 3 Wihan Wasserman, 2 BF Wiese, 1 Damian Smith.
Skeidsregter: Nico Bredenhann.
Afskop: 13:00
Ander Eindstryde:
11:40 – o.16A – Sentraal t. Fichardtpatk (A-liga)
10:20 – o.19A – Hoërskool Bloemfontein t. Louis Botha (B1-liga)
09:00 – o.19A – Brebner t. LSEN (B2-liga)
11:30 – o.19B – Jim Fouché t. Fichardtpark (A-liga)
10:20 – o.15A – Fichardtpark t. Sentraal (A-liga)
09:00 – o.19C – Sentraal t. Fichardtpark (A-liga)
10:10 – o.14A – Fichardtpark t. St Andrew’s School (A-liga)
09:00 – o.15A – Louis Botha t. Sand du Plessis (B1-liga)
