Die hoogtepunt van die jaarlikse kleedrepetisie van die Coca-Cola Cravenweek, die Noordvaal Bondedag, sal die wedstryd tussen die Goue Leeus en die Vrystaat wees. Vanjaar se Bondedag vind op 23 Junie in die Mbombela-stadion in Nelspruit plaas.
In die hoofwedstryd van die dag sal die gasheer, die Pumas, teen die Limpopo Blou Bulle kragte meet. Vir die eerste keer in jare sal die Luiperds asook die Griffons nie op die Bondedag in aksie wees nie.
Die Vrystaat behoort vanjaar weer ‘n gedugte span op die Cravenweek te wees. Die Leeus is ook ‘n span om mee rekening te hou met Monument, Jeppe High School en Helpmekaar wat vanjaar almal onder die 20 voorste spanne in die land tel.
Grey-kollege wat tot dusver onoorwonne vanjaar is en Louis Botha sal die kern van die Vrystaters se span vorm. Vrystaat kom op die eerste dag van die Cravenweek in die Paarl teen die Blou Bulle te staan.
Griekwaland-Wes wat die afgelope paar jaar kort voor die Bondedag onttrek het, sal wel vanjaar teen die Valke tydens die kleedrepetisie speel. Die Poubloues sal vanjaar slegs een span na die Cravenweek stuur.
Die Blou Bulle sal teen KwaZulu-Natal in die enigste ander wedstryd tussen unies se uitsoekspanne vir die Cravenweek in aksie wees. Die Ligbloues soos die Goue Leeus stuur vanjaar vier spanne na die Craven- en Akademie-weke.
Die bepalings is:
| MBOMBELA-STADION | ||
| 08:30 | o.16 | Vrystaat t. Goue Leeus |
| 09:40 | o.18 | Valke t. Griekwaland-Wes |
| 11:00 | o.18 | Blou Bulle t. KwaZulu-Natal |
| 12:20 | o.18 | Goue Leeus t. Vrystaat |
| 13:40 | o.18 | King Price Pumas t. Limpopo |